
=====================================================================
Laat Afrikaans soos kakiebos woeker (AV 4:2)
=====================================================================

Inhoudsoorsig


Laat Afrikaans soos kakiebos woeker

Johann Rossouw, 'n jong Afrikaanse filosoof by die Franse Instituut in Suid-Afrika, is gevra hoe jong mense in hul twintiger- en 
dertigerjare se geesdrif vir Afrikaans gewek kan word.

EK kan uiteraard nie namens ander jong Afrikaanssprekendes praat nie. As my idees wyer aanklank sou vind, is ek bly, maar niks waarborg dat 
dit so sal wees nie. Terselfdertyd glo ek nie in simplistiese planne, vooruitskouings en bestuur nie. Moet my nie vra om te verduidelik hoe 
ek dink hierdie situasie bestuur moet word nie -- weens die kompleksiteit daarvan vra dit nie om vlot bestuur nie, maar intelligente denke. 
Ek kan bloot s wat my self en die paar vriende met wie ek gesels -- meesal kunstenaars en intellektuele - geesdriftig oor Afrikaans kan 
maak. Dis eerstens belangrik om aan te stip wat alle geesdrif by my oor Afrikaans soos mis voor die son laat verdamp, synde twee 
assosiasies wat ek ongelukkig met Afrikaans het en wat dikwels nog lewendig gehou word: oneerlikheid by ouer Afrikaners, en die uitsluiting 
wat hulle nie net teenoor nie-Afrikaners pleeg nie, maar ook teenoor jonger Afrikaners deur ons 'n spreekbeurt te weier. Laat my toe om 'n 
voorbeeld van elk te gee. Oor onerlikheid: 'n paar weke gelede kom ek af op 'n artikel in Beeld waarin 'n eerwaarde professor skryf daaroor 
dat jong mense vandag nie in vormgodsdiens belangstel nie. "Amen", wou ek s, tot ek kom by die voorbeeld wat hy van vormgodsdiens gee: die 
onlangse bieg voor die Waarheidskommissie van die Stellenbosse predikante. Ek self het gedink dit was eerlikheid wat ek as seldsaam in 
Afrikaanse kerke ervaar. Wat het van die gees van belydenis geword? Om die waarheid te s, ek is steeds geskok deur die kerke se weiering 
om hul kant skoon te kry. Wat uitsluiting betref: in die vyf Afrikaanse universiteite se filosofiedepartemente is die gemiddelde dosente-
ouderdom seker rondom veertig, en as daar die afgelope vyf jaar drie mense onder dertig aangestel is, is dit baie. Maar wat sal my aan die 
positiewe kant geesdriftig kry oor Afrikaans? Hieroor wil ek vyf stuiwers in die armbeurs gooi, naamlik oor kultuur, ekonomie, politiek, 
spiritualiteit en internasionalisme. Kultureel staan ons moontlik aan die vooraand van 'n renaissance. Byna elke jong Afrikaner wat ek op 
hierdie terrein ken, is met die een of ander projek besig, soos 'n boek, 'n rolprent, of tentoonstelling. Dit is dringend nodig dat hulle 
ondersteun word, hetsy finansieel of deur die belangstelling en ontvanklikheid van die Afrikaanssprekende publiek. Ewe belangrik is 'n 
diskussiekultuur. Die Afrikaanse kultuurmedia het 'n enorme verantwoordelikheid wat hulle nie nakom nie deur op sogenaamde populre kultuur 
te konsentreer. Hoekom word jazz nooit bespreek nie? Waarom kry ons 'n oorvloed resensies, en so min ontledings en debatte oor wat aan die 
gang is? Ek dink die instelling van kultuurstudie as skoolvak kan hiertoe bydra. Almal weet teen hierdie tyd dat Afrikaners se verlies aan 
politieke mag 'n hernieude belangstelling in ekonomiese bemagtiging gaande gemaak het. Miskien is dit veral hier waar die uitsluiting van 
jong Afrikaners deur die staat en die Afrikanerestablishment die felste is. Daarom stel ek voor dat gekyk word na die instelling van 
vakleerlingskappe in Afrikaanse maatskappye wat vir jong opgeleides en afgestudeerdes gereserveer is om minstens aan hulle werkservaring en 
'n voorlopige inkomste te bied. Ook moet daar gedink word aan die stigting van 'n fonds vir jong Afrikaanse ondernemers waar finansiering 
bekom kan word. Polities sal 'n verandering moet kom in die rigting van 'n groter klem op gemeenskapspolitiek. Wreldwyd is die staat onder 
druk, en sy toenemende onvermo om die aspirasies van minderhede te bevredig. Die fragmentering wat hieruit voortspruit, is voorspelbaar. 
Eerder as om daaroor te teem, moet gesoek word na 'n artikulering van politieke aspirasies in 'n plaaslike verband. Uiteindelik is dt waar 
die politieke werklikheid ons ook die meeste raak. Spiritueel beleef ons 'n krisis. Sake wat aandag sal moet kry, is seksualiteit en die 
liggaam, moraliteit, 'n alternatief vir keiharde materialisme, en 'n eensydige klem op die Christendom. Boeddhisme en Afrikagodsdienste 
dink lankal hieroor. Daar sal ruimte gemaak moet word vir ander godsdienste binne Afrikaans, en vir 'n herdefiniring van die Christendom. 
In die laaste instansie is 'n hernieude internasionalisme nodig, soos wat dit voorheen deur die Dertigers en die Sestigers beoefen is. Nie 
net is skakeling met die Nederlandse taalgemeenskap nodig nie, maar ook meer vertalings uit ander tale. Afrikaners moet voortdurend 
herinner word dat ekonomiese onsekerheid, politieke rigtingloosheid en so meer wreldwye probleme is wat strek van Timboektoe tot Tibet. 
Dit kan net sinryk wees om saam met ander tale en groepe hieroor na te dink. Dit alles kan seker opgesom word deur te s dat Afrikaans die 
medium moet wees vir openheid, inklusiewe diskussie en besinning. Afrikaans moet in die toekoms soos kakiebos wees: waar dit kom, groei 
dit, en jy kry hom nie dood nie. Kakiebos is boonop nie kieskeurig of aanstellerig nie.

Terug na bo

Hierdie blad: <http://www.afrikaans.com/av426.html> Voeg kommentaar toe aan hierdie bladsy. Skryf gerus aan die redaksie.  Kopiereg (c) 
Stigting vir Afrikaans 1999     Blaai terug | Blaai om
.

Enige woord Al die woorde Presiese frase   /// Afrikaans Vandag -- April 1997 /// Afrikaanse sektor moet in rat kom (AV 4:2) /// 'n 
Positiewe taaltoekoms (AV 4:2) /// Staan Afrikaans sy man oor die lug? (AV 4:2) /// SAG begin wins sien (AV 4:2) /// Tale word digterlik 
saamgebind (AV 4:2) /// Laat Afrikaans soos kakiebos woeker (AV 4:2) /// Afrikaans en 'n taalplan vir Suid-Afrika (AV 4:2) /// Keuses word 
nou vir en in Afrikaans gemaak (AV 4:2) /// Moedertaalonderrig is belangrik (AV 4:2) /// Staan nader -- daar's hoop! (AV 4:2) /// Hoekom 
stry? (AV 4:2) /// Zoo leert men ... Afrikaans (AV 4:2) ///

